14 Oktober 2012

Die wonder van God se genade oortref die nare werklikheid van ons sonde


14 Okt. 2012 (RB)
Ps. 130; Teksverse Ps. 130:1 & 8
Sing    Lofsang:       Ps. 147 v 1             (OAB)
           Na wet:          Ps. 146 v 2 & 3      (OAB)
           Na gebed      Ps. 40 v 4               (OAB)
           Slotsang        Ps. 130 v 1 & 4      (OAB)

Inleiding
Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Indien mens nie jou lewensgeluk op die regte plek soek nie, sal jy dit nooit vind nie. Wanneer mens jou lewensgeluk op die verkeerde plek soek dryf jy net al hoe verder van die ware bron van geluk af weg. Die harde werklikheid is dat dit sonde is om lewensgeluk op die verkeerde plek te soek. Mens kan net by God ware vrede en lewensgeluk vind. In Ps. 130 hoor ons dan ook hoe sonde die mens van God vervreem. Ons hoor ook van die Psalmdigter se intense verlange om sy gebroke verhouding wat deur sonde verbreek is, met God te herstel.

In hierdie Psalm hoor ons hoe die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sondes oortref. Ons hoor hoe die Psalmdigter by God pleit om hom te red ten spyte van sy sondige korruptheid. Hy pleit by God op grond van sy genade en dan hoor ons hoe God antwoord op die pleidooi. Wag op die Here en Hy sal jou bevry van die sonde slawerny.

In die eerste plek hoor ons die Psalmdigter se pleidooi:
Here red ons ten spyte van die korruptheid van ons sonde
Ons hoor hoe hy sug: “Uit die dieptes  roep  ek na U, Here.” Dan hoor ons hoe hierdie soeke na God al hoe intenser word: “luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.” Hierdie soeke na God is alleen omdat die Psalmdigter intens bewus is van sy sonde teenoor die Here soos ons hoor in vers 3:
As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?
Voordat ons nie intens bewus word van ons sonde en die verwoestende effek daarvan nie, sal daar nooit ’n ware begeerte na God wees nie.

Die rede waarom ons nie altyd werklik besef hoe ernstig sonde is en die effek wat dit op ons lewens het nie, is omdat ons dikwels net teen die simptome van sonde vaskyk. Liefdeloosheid teenoor ons naaste, selfsug, woede, haat, onsedelikheid is alles net simptome van ’n baie dieper probleem. Die dieper probleem is dat ons afgode dien in plaas van die ware lewende God. Die afgode in ons lewens lyk miskien anders as die afgode wat die Israeliete gedien het, maar die effek daarvan is net so verwoestend as wat dit vir Israel was. Ons verhouding met die enigste ware lewende God ly skade.

Die afgode in ons lewens is ook nie opsigself noodwendig altyd boos of sleg nie. Ons sien maklik die bose afgode raak, soos die smag na mag en die misbruik van mag. By die meeste van ons is dit nie noodwendig ’n probleem nie. Die meeste afgode in ons lewens is baie goed vermom in dit wat eintlik mooi en goed is. Dinge soos ons my kinders, my loopbaan, my prestasies in die lewe, my vaardighede, my stokperdjie om maar enkele voorbeelde te noem.

Dit is nie verkeerd om ambisie te hê om te vorder in my loopbaan nie. Dit is nie verkeerd om my talente te gebruik om te presteer in die lewe nie. Dit is nie verkeerd om ’n stokperdjie te hê of om sport te geniet nie. Wanneer ek egter my sekuriteit en eiewaarde in hierdie dinge begin soek dan begin ek afgode daarvan maak. Wanneer ek byvoorbeeld op my eie prestasies staat maak om vir my sekuriteit en lewensgeluk te verskaf, dan begin ek meer op dit vertrou as wat ek op God vertrou. Die probleem lê nie daarin dat ek my kinders te lief het nie, maar eerder daarin dat ek God minder liefhet as wat ek hulle het.

Hoe bepaal ek wat is die afgode in my lewe? Ek moet myself afvra, wat is dit in die lewe wat ek nie bereid is om op te gee nie? Wat is dit wat na my mening vir my sin en betekenis in die lewe gee? Wat is dit wat in die lewe waarop ek my sekuriteit bou? Wat is dit wat my kwaad maak of wat laat my benoud voel? Wat maak my moedeloos en verskaf aan my ’n skuldgevoel? Wanneer ek op die gawes van God in die lewe begin fokus sonder om God wat dit gee raak te sien, dan maak ek selfs van die goeie dinge in die lewe afgode. Wanneer ek my vertroue nie in die Here stel nie, maar in die gawes wat Hy gee, dan is ek besig met afgodery.

Op ons eie sal ons nooit die afgode in ons lewe raak sien nie. Dit is die Heilige Gees wat dit vir ons uitwys. Dit is die Gees wat dit vir ons moontlik maak om soos die Psalmdigter na die Here te roep uit die diepte van ons ellende. Dan kan ons ook die Here aanroep en vra:
Red ons van ons sondes op grond van U genade
In Ps. 130:4 hoor ons:
Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.
God openbaar sy vergifnis aan ons deur die soenverdienste van Jesus aan die kruis en sy oorwinning van die dood. Die Psalmdigter het vooruit daarna gekyk terwyl ons terugkyk na daarna, terwyl ons en die Psalmdigter met hoop uitsien na Jesus wat weer op die wolke sal kom om ons finaal van die pyn en leiding te kom verlos. Dit is alleen op grond van sy offer aan die kruis dat ons kan bely: “Maar by U is daar vergifnis.” Dit is alleen op grond van hierdie genade van God dat ons kan weet dat ons nie goedkeuring en aanvaarding van God en die mense om ons moet verdien nie omdat Jesus reeds God se goedkeuring, aanvaarding en liefde vir ons aan die kruis verdien het.

Op grond van God se liefde vir ons in Jesus Christus kan ons saam met Psalmdigter bely dat ons alleen ons hoop op God plaas en dat ons ’n intense verlange het om saam met Hom te wees soos ons hoor in Ps. 130:5-6
Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.
Sonder die Here se genade sal ons Hom wat die enigste ware bron van vrede en lewensgeluk is, nooit vind nie. Dit is alleen God wat dit moontlik maak omdat Hy deur sy Gees vir ons alles gee wat nodig is om op Hom te vertrou.

Dit wat die Here vir ons gee, vra Hy egter ook van ons
Hoop op God en glo sy belofte dat Hy ons sal bevry van ons sondeslawerny
In Ps. 130:7 hoor ons:
Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.
Om op die Here te wag beteken dat ons Hom moet vertrou. Ons moet op sy troue verbondsliefde vertrou wat Hy deur Jesus Christus op Golgota vir ons gewys het. Om God te vertrou beteken om te glo dat die verlossing by Hom alleen seker is, om te glo dat Jesus die enigste weg na God is soos Hy ook vir ons in Joh. 14:6 sê:
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Om die Here te vertrou beteken dat Hy alleen ons van ons sondes, dit wil sê die afgode in ons lewens sal verlos soos ons hoor in Ps. 130:8:
Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.
Die afgode in ons lewens maak van ons slawe deur ons afhanklik van hulle te maak. Dan soek mens jou geluk byvoorbeeld in die uitleef van jou loopbaan eerder as wat mens jou geluk by God alleen soek. Die Here verlos ons daarvan sodat ons maar alleen ons geluk by Hom soek. Dan kan mens ook die vreugdes, gawes en talente wat die Here vir ons gee geniet in die wete dat dit ’n gawe uit God se hand is. Dan kan ons weet dat God ons lewensgeluk bepaal.

slot
Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Sonde beroof ons van ware lewensgeluk in die lewe omdat dit keer dat ons, ons geluk by God alleen soek. Deur God se genade in Jesus Christus verlos Hy ons van die sonde in ons lewe. Dan beleef ons dat die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sonde oortref. Dan soek ons, ons vrede en lewensgeluk net by God alleen en nie in die dinge van hierdie lewe nie. Dan kan ons inderdaad die goeie in die lewe geniet as gawes uit sy hand sonder dat ons daarvan afgode maak. Kom ons soek ons vrede en lewensgeluk by die Here alleen in Jesus Christus.
Amen

04 Oktober 2012

Jesus is die enigste ware weg na God en die lewe


30 Sep. 2012 (RB)
Joh. 13:31 – 14:18; Teksverse Joh. 14:16
Sing    Lofsang: Ps. 150 v 1 & 3      (OAB)
           Na wet:    Ps. 32 v 1               (OAB)
           Na gebed Ps. 84 v 1 & 6       (OAB)
           Slotsang  Ps. 105 v 1 & 2      (OAB)

Die lewe het ’n manier om anders uit te draai as wat ons verwag! Nes dit lyk of alles nou in plek val en my vooruitsigte lyk mooi en goed, dan gebeur daar iets wat alles deurmekaar krap. Dit is iets wat al meer as een maal in my lewe gebeur het en ek glo elkeen van ons het dit al ervaar.

In Joh. 14 vind ons dat dit ook iets is wat Jesus se dissipels ervaar het. Hulle is hewig ontsteld oor dit wat Jesus hulle nou net meegedeel het terwyl hulle besig was om die Paasmaal saam met Jesus te nuttig. Judas het homself verskoon nadat Jesus aan hom openbaar het dat Hy weet dat Judas Hom gaan verraai. Nou hoor die agterblywende dissipels hierdie onstellende boodskap wat in Joh. 13:33 vir ons opgeteken is:
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.

Simon Petrus vra die vraag wat in almal se gemoed is: “Here, waarheen gaan U?” Hy kan maar net nie aanvaar dat Jesus weggaan nie en vol bravade roep hy uit: (Joh. 13:37)
“Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”
Dan hoor hy en die ander dissipels Jesus se skokkende antwoord v38:
“Sal jy jou lewe vir My aflê? Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Dink net hoe ontsteld die dissipels op daardie punt was! Vir drie jaar lank het hulle Jesus gevolg nadat hulle alles opgegee het. Hulle hoop was totaal en al op hierdie Messias gevestig en heimlik het hulle verwag dat Hy Israel weer in sy vorige glorie sou herstel en van hulle vyande verlos. Nou moet hulle hoor die Messias op wie hulle al hulle hoop gevestig het, weggaan! Alles verniet, tevergeefs soos die Prediker gesê het!

Jesus se dissipels verstaan nog steeds nie die groter prentjie van God se koninkryk nie, naamlik dat dit nie maar net nog ’n tydelike aardse koninkryk is nie. God is besig om sy ewige koninkryk te vestig wat wyer strek as net die hier en nou waarin die dissipels vaskyk. Daarom sê Jesus vir hulle: (Joh. 14:1-4)
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

Geliefdes, het ons nie ook maar dikwels dieselfde probleem as wat die dissipels gehad het nie? Is ons nie ook maar vasgevang in die hier en die nou nie? En wanneer dinge nie heeltemal glad verloop soos wat ons verwag nie, dan raak ons ook paniekerig en ontsteld! As ek tog maar net hierdie maand kan deurkom en dan breek die kar. Ek het nie geld om die kar reg te maak nie! En dan gaan ons vol ontsteltenis na God toe. Net soos die Jode ’n tydelike aardse koninkryk verwag het, ten spyte van wat Jesus reeds vir hulle gesê het. Kyk ons nie ook maar net in die hier en nou vas nie? Wil ons nie ook maar so dikwels vir Jesus gebruik om huidige probleme op te los sonder dat ons kyk na die groter prentjie van God se koninkryk waarmee Jesus besig is nie? Ons kyk net in die hier en nou vas en wil Jesus net soos die Jode van ouds misbruik om ons eie behoeftes te bevredig. Die Here waarsku ons teen so ’n benadering soos ons hoor in 1 Kor. 15:19:
As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Jesus antwoord Petrus se vraag van “waar gaan U heen?” deur hom eers te kalmeer: “Moenie ontsteld wees nie.” Hoe kry mens dit reg om nie ontsteld te wees oor die dinge waarmee ons in hierdie lewe mee sukkel Nie? Eenvoudig: “Glo in God; glo ook in Jesus.” Vertrou God, Hy is in beheer. Niks op hierdie aarde gebeur buite sy wil nie. Dan gee Christus weer vir sy dissipels die groter perspektief van God se koninkryk. Dit is meer as net die hier en nou. Christus is besig om vir ons plek voor te berei om in die ewige heerlikheid saam met God te wees. En julle ken die weg na die plek waar Jesus is.

Die probleem is egter dat ons so dikwels net soos Tomas nie verstaan nie en dan het Jesus met ons ook net soveel geduld as wat Hy met Tomas gehad het. Hy verduidelik weer die eenvoudige boodskap van die evangelie (dit wil sê die goeie nuus van Jesus Christus) soos ons hoor in ons teksvers Joh. 14:6:
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
Jesus is die enigste ware weg na God en die lewe, daar is nie ’n ander weg nie. Dit is ’n boodskap wat by die wêreld nie baie gewild is nie. ’n Wêreld wat vasgevang is in die leuen van die satan dat elkeen maar op sy eie manier wel by God sal uitkom. Dis nie ’n probleem wat uniek is aan die tyd waarin ons leef nie. Dit was maar eintlik van die begin af dat die mens onafhanklik sy eie pad wil loop.

Die probleem is egter dat dit die pad na die ewige dood is waar mens vir ewig van God verwyder is. Die beskuldiging word so dikwels gemaak dat dit ’n veroordelende boodskap is, maar dit is nie waar nie. As jy verkies om God te verwerp, dan kan jy mos vir niemand anders as jouself blameer wanneer jy as gevolg van daarvan vir ewig van God geskei word nie soos ons hoor in Joh. 3:17-18:
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Die mens kan egter nie op sy eie sonder God bestaan nie. Filippus spreek hierdie versugting van die mens uit met sy vraag: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Dan wys Jesus weer eens vir die waarheid uit soos ons hoor in Joh. 14: 9-10:
“Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?
Ten spyte van hierdie duidelike boodskap is daar sommiges wat nie glo nie en as gevolg van daarvan verlore gaan. Elkeen wat verlore gaan kan niemand buiten homself blameer nie.
Die uitverkore kinders van God ken egter vir Jesus en word sodoende weer met die Vader versoen soos ons hoor in Joh. 14:7:
As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
Jesus se dissipels het Hom geken omdat hulle Hom persoonlik gesien het en na Hom geluister het. Ons kan Jesus egter ook ken en as te ware ook sien. In Gal 3:1 hoor ons:
Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang!
Deur Woordverkondiging en persoonlike Bybelstudie leer ons Jesus ken asof ons self soos sy dissipels saam met Hom geleef het en ook gesien het toe hulle Hom gekruisig het. Deur ons geloof in Jesus sien ons die wese en heerlikheid van die Vader self raak. God is onsigbaar en tog sien ons Hom!

In Joh. 14:11 herhaal Jesus dan weer hoe ons met die Vader versoen word en sodoende deel kry aan sy koninkryk:
Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.
Glo in Jesus Christus en beleef die wonder van God se genade!

In Joh. 14:12 hoor ons dan ook wat die doel en opdrag van Jesus se kerk op aarde is:
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.
Jesus het aarde toe gekom om die verlossing van die mensdom te bewerkstellig. Sy kerk het die doel en die opdrag om hierdie verlossing aan die wêreld uit te dra. Die groter dinge waarna hier verwys word is nie belangriker as Christus se werk nie, maar wel dat daardie werk deur sy kerk voltooi sal word om al sy uitverkore kinders te laat deel in die heerlikheid van sy koninkryk. Self in hierdie taak laat God ons nie alleen nie, want Hy belowe dat hy sal luister wanneer ons bid. Hy verseker ons dat elke keer wanneer ons bid
Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Dat Hy ons gebed in die Naam van Jesus Christus sal verhoor.

Jesus laat nie sy kerk alleen agter nie. Hy het die Heilige Gees gestuur sodat ons deur sy Gees hierdie opdrag kan uitvoer wat Hy vir ons gegee het soos in Joh. 14:16&17 verseker:
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
En dan gee Hy ook nog vir ons die troos van Joh. 14:18:
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

Geliefdes, is u so vasgevang in die dinge van hier en nou dat u nie die groter prentjie van God se koninkryk raak sien nie? Is u so verstrengel in die sorge van u onmiddellike omstandighede dat dit vir u voel of alles tevergeefs is? Moenie dat die tydelike dinge van hierdie lewe u ontstel nie. Sien die groter perspektief van God se koninkryk raak. Glo in God, glo in Jesus Christus. Glo dat Hy die enigste ware weg na God en die lewe is. Gaan dra hierdie goeie nuus in woord en daad uit sodat elkeen wat uitverkore is, die blye boodskap kan hoor en deur die Gees tot bekering gelei kan word. Maranate! Kom Here Jesus, kom!
Amen