21 Julie 2011

Vertrou op die HERE alleen en nie op die goddelose nie

17 Jul. 2011 Reddersburg
Skriflesing: Jes. 7 teksvers: Jes. 7 v 9b
Lof-Psalm Ps. 84 v 1 & 2 (OAB)
Na Wet Ps. 1 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 103 v 1 & 2 (OAB)
Slotsang Ps. 46 v 1 & 6 (OAB)

Inleiding

Op wie vertrou ons wanneer ’n krisis of ’n groot probleem ons in die gesig staar? Indien mens nie jou vertroue op die regte plek plaas nie, kan dit baie slegte gevolge vir jou inhou soos die geskiedenis van koning Agas van Juda baie duidelik vir ons wys. Koning Ags het ’n krisis in die gesig gestaar van twee volke wat saamgespan het om teen hom oorlog te voer. In Jes. 7v2 hoor ons dat hulle vir hierdie bedreiging so bang was dat hulle soos bome in die wind gebewe het! Om die omstandighede te van ons teksgedeelte in Jes. 7 te verstaan gaan ek net eers gou ’n kort agtergrond gee van die omstandighede wat tot hierdie bedreiging van konings Agas aanleiding gegee het.

Historiese agtergrond

Koning Agas het in die jaar 742 vC koning geword van die Suidelike ryk Juda. U onthou hoe die ryk van Israel in twee geskeur het na koning Salomo as gevolg van sy sonde en afvalligheid. Israel is verdeel in die Suidelike ryk Juda en die Noordelike ryk Israel wat ook soms Efraim genoem word. In hierdie tyd het Assirië as ’n groot wêreld mag na vore getree. Onder hulle koning Tiglat Pileser III, het hulle ’n groot bedreiging vir die Israel en Juda en die ander volke om hulle geword.

’n Aantal van hierdie volke wat Israel en Damaskus ingesluit het, het besluit om saam te staan teen Assirië. Hulle het vir koning Agas gevra om by hulle aan te sluit, maar hy het geweier, heelwaarskynlik omdat hy reeds besluit het om met Assirië saam te werk. Om hom te dwing om saam te werk het koning Peka van Israel en Resin van Damaskus besluit om Juda aan te val en om ’n ander koning in die plek van Agas aan te stel wat met hulle sou saamwerk soos ons hoor in Jes. 7v6:
Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.

In ons teksgedeelte is Agas juis besig om Jerusalem se waterkanaal te ondersoek wanneer die profeet Jesaja by hom kom. Die Here het vir Jesaja gestuur om vir Agas gerus te stel oor hierdie bedreiging van oorlog soos ons hoor in Jes. 7v3-4.

Belofte van die HERE met ’n voorwaarde

3 Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam. 4 Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie.
Vyf keer sê die Here vir hom dat hy moet kalm wees en dat hy nie bang hoef te wees. Die perspektief wat die Here gee is sy almag teenoor die bloot menslike natuur van die twee konings. Hulle is maar net soos twee stukke brandhout wat net rook. In Jes. 7v7 sê die Here: “Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie”. Efraim en Damaskus sal albei verwoes word sodat daar niks van hulle sal oorbly nie.

Hoe dikwels staan ons nie ook voor ’n krisis in ons lewens nie en dan bewe ons ook soos bome in die wind. Die ekonomie bedreig my inkomste of watter storm daar ook al in u lewe is. U weet wat die situasies in u lewe is wat soos ’n storm dreig om u te oorweldig. Wat doen ons wanneer die lewensstorms soos ’n weermag teenoor ons staan en dit dreig om ons te oorweldig? Agas het die verkeerde keuse gemaak. Hy het nie op die Here vertrou nie en hy het hom nie aan die waarskuwing van die Here gesteur nie (vgl. Jes. 7v9b)
Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.

Die Here het hom beveel om ’n teken te vra sodat sy geloof en vertroue in die Here versterk kan word. Ewe vroom antwoord hy dat hy nie die Here wil tart nie, maar tog doen hy dit! Sy weiering om ’n teken te vra wys op sy ongeloof. Die Here gee daarom self ’n teken soos ons hoor in Jes. 7v14. Daar hoor ons van die Immanuelteken:

Die Immanuelteken

Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.
Immanuel beteken “God by ons”. Dit wys op God se genade, maar dit wys ook op God se straf wanneer die mens sy genade verwerp. Agas het besluit om nie op die Here te vertrou nie soos ons hoor in 2 Kon 16v7:
Toe stuur Agas ’n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.”

Immanuel is die teken wat die Here vir Agas gee om hom te herinner aan sy ongeloof. Die Hebreeuse woord wat hier met jongvrou vertaal is wys op ’n ongetroude jongvrou. Volgens die Joodse kultuur van daardie tyd sou sy dus nog ’n maagd gewees het, maar oud genoeg om te kan trou. Teen die tyd wat die vrou dus getroud was en geboorte aan ’n kind kon gee sou die bedreiging van Peka en Resin vergete wees. Binne twee jaar daarna was daar ook geen bedreiging van Peka en Resin nie en sou die Agas elke slag aan sy ongeloof herinner word wanneer hy die naam van die kind hoor, Immanuel. Die Here was met hulle en het hulle van die bedreiging gered.

Die Here het dus vir Agas die Immanuel teken gegee as ’n herinnering aan sy ongeloof en daarom het die profesie van Jes. 7v17-25 waar geword. Die land is verwoes sodat daar net distels en dorings in die wingerde en landerye oorgebly het. Agas het besluit om sy vertroue op Assirië te stel soos ons hoor in 2 Kron. 28v16:
In dié tyd het koning Agas laat hulp vra by die konings van Assirië.
Dit het hom baie duur te staan gekom soos ons hoor in 2 Kron. 28v20:
Koning Tiglat-Pileser van Assirië het opgetrek, maar téén Agas. Hy het Agas nie kom help nie, maar sake vir hom nog moeiliker gemaak. 21Agas het van die huis van die Here, die paleis en die amptenare goud gevat en dit vir die koning van Assirië gegee, maar dit het hom niks gehelp nie.

Die uiteinde van Agas se ongeloof is dat hy heeltemal van die Here weggedryf het soos ons hoor in 2 Kron. 28v22:
Toe dit so sleg met hom gaan, was hy, dié koning Agas, nog verder ontrou teenoor die Here.
In Kron. 28v24-25 hoor ons:
24 Agas het die goed wat in die tempel gebruik is, weggevat en stukkend geslaan, die deure van die huis van die Here gesluit en op elke hoek in Jerusalem altare gebou. 25 In elke stad van Juda het hy hoogtes ingerig om vreemde gode met offerandes te vereer. So het hy die Here, die God van sy voorvaders, uitgetart.
Die uiteinde van ongeloof is net hartseer en verdriet.

Vir Agas het sy ongeloof beteken dat hy by ’n heidense koning en nasie gaan hulp soek het. Hoe dikwels soek ons nie uitkoms op ander plekke as by God nie? As die finansies ons druk dan soek ons hulp by die dobbelgodin daar by die casino of die Lottokaartjie. As die lewe te veel word dan probeer ons ons sorge met drank verdrink. Ook hier is die uiteinde net hartseer en verdriet net soos wat dit vir Agas was.

Aan die ander kant is die Immanuelteken wat die Here vir Agas gegee het ook ’n teken van hoop, want die ontrouheid van mense kan nie die Here se genade tot niet maak nie. Hierdie selfde profesie wat die Here vir Agas gegee het is ook in Jesus Christus vervul soos ons hoor in Mat 1v23:
“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.
In Jesus Christus het God mens geword vir ons. Hy het bange Godverlatenheid in ons plek deurgemaak sodat ons nooit God verlaat sal word nie.

In Jesus Christus was God by die mense gewees en na Jesus se hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek gestuur. God is altyd by ons veral ook wanneer ons krisisse en probleme moet hanteer. God is groter as enige probleem of krisis wat ons kan teenkom.

Slot

As ons nie die Here vertrou nie en as ons sy genade verwerp en uitkoms soek by die goddelose, kan dit veroorsaak dat ons naderhand heeltemal van die Here wegdraai en dit sal baie slegte gevolge vir ons in inhou. Die Here se genade is egter baie groot en daarom het Hy vir ons die Immanuelteken gegee. As ons God se genade verwerp en vertrou op die goddelose sal dit aan ons ongeloof herinner. As ons op die Here vertrou kan ons verseker wees dat God in Jesus Christus altyd by ons sal wees. Hy het die Heilige Gees vir ons gestuur sodat ons nooit sonder God sal wees nie. Ons moet op die Here vertrou veral in die krisistye in ons lewens. Laat ons daarom op die Here alleen vertrou en nie op die goddelose nie.
Amen

10 Julie 2011

Ek is ’n Christen omdat ek in Hom glo en sy volgeling is wat doen wat Hy my beveel om te doen

Skriflesing: Mat. 4 v 18 – 21; 28 v 16 – 20 teksverse: Mat. 28 v 18 – 20
Sondag 12 Heidelbergse Kategismus.
09 Jul. 2011 Reddersburg
Lof-Psalm Ps. 48 v 1 & 5 (OAB)
Na Wet Sb. 9-1 v 1 & 11 (Sb 26 in swart Psalmboek)
Na Gebed Ps. 119 v 39 (OAB)
Slotsang Ps. 119 v 1 & 2 (OAB)
Sondag 12 Heidelbergse Kategismus.
31  Vraag:  Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord:  Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c);  tot ons enigste Hoëpriester (d), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f);  tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (g).
(a) Ps 45:8;  Heb 1:9;  Jes 61:1;  Luk 4:18.  (b) Deut 18:15;  Hand 3:22;  7:37;  Jes 55:4.  (c) Joh 1:18;  15:15.  (d) Ps 110:4.  (e) Heb 10:12, 14;  9:12, 14, 28.  (f) Rom 8:34;  Heb 9:24;  1 Joh 2:1;  Rom 5:9, l0.  (g) Ps 2:6;  Sag 9:9;  Matt 1:5;  Luk l:33;  Matt 28:18;  Joh 10:28 Op 12:10, 11.
32  Vraag:  Waarom word jy 'n Christen genoem (a)?
Antwoord:  Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a) Hand 11:26.  (b) 1 Kor 6:15.  (c) 1 Joh 2:27;  Hand 2:17.  (d) Matt 10:32;  Rom 10:10.  (e) Rom I2:1;  1 Pet 2:5, 9;  Op 1:6;  5:8, 10.  (f) 1 Pet 2:11;  Rom 6:12, 13;.  Gal 5:16, 17;  Ef 6:11;  1 Tim 1:18, 19.  (g) 2 Tim 2:12;  Matt 25:34.
Inleiding
Waarom noem ek myself ’n Christen? Het u al ooit werklik hieroor nagedink? Die maklike en vinnige antwoord is omdat ek in Christus glo. Is dit werklik al? In die Kategismus beantwoord ons die vraag soos volg:
Omdat ek deur die geloof 'n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek sy Naam kan bely, myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.
Wat beteken hierdie belydenis van ons prakties?

In Mat. 28 v 18 tot 20 sê die Here vir ons baie prakties wat dit beteken. In die eerste plek hoor ons:
Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.
Dit gee vir ons die grondrede waarom ons Christene wil wees. Christus is die ewige Koning wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat Hy vir ons verwerf het beskerm en bewaar soos ons ook bely in vraag en antwoord 31 van die Heidelbergse Kategismus. Christus het hierdie Koningskap nie deur mag en geweld verkry nie. Hy het dit verkry deur Homself te offer soos ons hoor in 1 Kor. 15v3-4:
Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.
Dit is die evangelie, die goeie nuus. Dit is wat ons moet glo.

Wat beteken hierdie geloof prakties vir ons? As ek werklik glo dat daar ’n God is aan wie ek my bestaan te danke het en dat Hy alleen bepaal waar ek my ewige bestemming gaan deurbring, dan sal ek Hom onvoorwaardelik dien. As ek werklik glo dat Christus vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy deur sy opstanding aan my die ewige lewe gee dan sal ek Hom onvoorwaardelik dien!

Wat beteken dit om Christus te dien? Dit beteken dat ons sy dissipels moet wees. Christus het sy eerste dissipels geroep (vgl. Mat. 4v19) Kom hier! Kom saam met My. Dit is wat dit beteken om ’n dissipel te wees, iemand wat Christus volg en by Hom leer. Jesus beveel sy eerste dissipels om Hom te volg, dit is om by Hom te leer en te doen wat Hy hulle leer. Net voor sy hemelvaart gee Hy dan ook die opdrag aan sy dissipels (vgl. Mat 28v19):
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels

Dit is dan ook die opdrag wat Christus aan sy kerk gee. Voordat ons egter dissipels kan gaan maak is dit belangrik dat ons self eers moet weet wat ’n dissipel is en dat ons self eers dissipels moet wees. In Mat. 28 v 19 & 20 hoor ons dat daar twee goed betrokke is by die maak of word van dissipels:
1) doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees
2) leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Deur die doop word ons ingelyf in die gemeenskap van die gelowiges en daarmee kry ons ook deel aan God Drie-Enig, Vader Seun en Heilige Gees.

Die tweede aspek is dat ons moet leer om alles te onderhou wat Christus ons beveel het. Geloof in Jesus Christus beteken dus dat dit meer is as net om iets te weet of ’n emosionele lekker gevoel. Dit beteken dat ons in navolging van Christus ook moet doen wat Hy vir ons sê om te doen. Hierdie doen beteken egter nie dat ons God se genade daardeur moet verdien nie. Hierdie doen is die reaksie op God se genade. Wanneer ons in die kategismus bely dat ek:
myself as 'n lewende dankoffer aan Hom toewy en in hierdie lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel stry
is dit die reaksie wat God se genade in ons wakker maak. God gee eers voordat Hy vra en Hy vra nooit meer as wat Hy reeds gegee het nie.

Ons moet dus alles onderhou wat Christus ons beveel het en deur dit te doen leer ons ook ander hoe om dit te doen. Hoe onderhou ons alles wat Christus ons beveel het? Die bergpredikasie in Mat. 5 tot 7 gee vir ons ’n baie praktiese voorbeeld daarvan. In Mat. 5v13-16 hoor ons:
13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Net soos sout smaak aan kos gee en kos bewaar moet die Christen se lewe ook anders wees as die verderf en verval van die sondige wêreld. Die Christen moet die goeie in die lewe bewaar en sy lewe moet soos ’n lig skyn in die donker wêreld daarbuite. God se genade is soos energie: dit stel ons in staat om aktief te wees en om te werk. Die gawes wat God aan ons skenk is die gereedskap wat Hy vir ons gee om ons roeping as Christen mee te vervul. Ons talente is nie status simbole waarmee ons moet spog nie, ons moet dit gebruik om ons medemens te leer om dissipels te word.

In Mat. 5v17-48 hoor ons hoe ons prakties sout en lig in die wêreld moet wees. Moenie haatdraend wees nie. Moord begin in ons kwade gevoelens teenoor mekaar. As daar onmin tussen ons is, moet ons dit uitklaar deur mekaar te vergewe. Ontrou en onkuisheid begin by ons verkeerde begeertes (vgl. byvoorbeeld Mat 5v27):
Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg
Moenie valslik ’n eed sweer nie. As ons, ons woord gegee het, dan moet ons dit nakom. (Mat. 5v37):
Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’

Moenie wraak sweer nie (vgl. Mat. 5v38-39):
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ 39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.
Dit alles moet uitloop op die vervulling van die liefdes gebod. Ons moet selfs teenoor ons vyande liefde betoon. Net soos ons Vader moet ons nie in ons liefde diskrimineer teen ons medemens nie, maar ons moet ons liefde volledig en onvoorwaardelik gee aan almal wat die Vader op ons lewenspad geplaas het.

In Mat. 6 en 7 sê Christus vir ons hoe ’n Christen moet leef. Ons hulp aan armes moet so wees dat ons nie ons eie eer daardeur soek om aan ander te wys hoe goed ons is nie. Ons moet dit doen in nederigheid vir God sonder om ’n groot vertoon daarvan te maak. Ons moet ons prioriteite reg kry sodat dit wat God ons beveel om te doen nommer een is ons lewens. Ons moenie ander veroordeel nie, want ons is self ook nie sonder sonde nie. Ons moet met vertroue in gebed tot ons Vader nader met die wete dat Hy vir ons sal gee wat ons nodig het. Ons moenie moed opgee nie. Ons moet ons nie laat verlei nie en ons moet daders van ons woord word. Moenie net mooi praatjies maak nie, maar doen werklik wat God van ons verwag.

As ons so luister na dit wat Christus ons beveel om te doen, dan moet ons erken dat dit werklik ’n uitdaging is wat ons op ons eie moeilik kan nakom. Daarom moet ons weereens onthou dat ons nie hiermee God se genade moet probeer verdien nie. Dit moet ons reaksie wees op God se genade wat ons nie in eie krag moet aanpak nie want Christus belowe ons in Mat. 28v20:
En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

Na sy hemelvaart het Hy die Heilige Gees gestuur om ewig by ons te bly. Daarom kan ons alles onderhou wat Hy ons geleer het. Wanneer ons dit in geloof en uit die krag van die Heilige Gees doen, is dit ’n liefdestaak wat ons met vreugde vir God doen. Dan is dit nie ’n moeitevolle werk nie maar is dit ’n liefdesdiens wat ons graag sal en wil doen.

Wanneer ek myself ’n Christen noem dan doen ek dit omdat ek in Hom glo en sy volgeling is wat doen wat Hy my beveel om te doen.
Amen