21 Okt. 2012 (RB)
Gen. 11; Teksverse Gen. 11:5 & 7
Sing
Lofsang: Ps. 48 v 1 (OAB)
Na
wet: Ps. 32 v 1 (OAB)
Na
gebed Ps. 42
v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 30 v 1 (OAB)
Inleiding
Ons leef vandag in ’n
moderne wêreld wat baie ver verwyderd van Babel is. Ons het selfone,
televisies, internet en nog veel meer produkte van ons moderne tegnologie tot
ons beskikking. Dinge wat in die tyd van Babel ondenkbaar was. Ten spyte van
ons totaal anderse leefwêreld is daar tog sekere dinge van die menslike natuur
wat nie verander nie en wat by ons en by Babel teenwoordig was. Die wyse woorde
van die Prediker is baie waar soos ons in Pred.1:9 hoor:
Wat was,
sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie
wêreld nie.
Die mens is vandag in
hierdie moderne wêreld nog steeds net so opstandig teenoor God as wat hulle in
die antieke wêreld van Babel was. In hierdie verhaal van Babel hoor ons hoe die
nageslag van Noag nog steeds net so opstandig teenoor God is as wat die mensdom
voor die vloed was. Ons hoor hoe die mens absoluut verhard is in sy sonde, maar
dat God nog steeds ten spyte daarvan sy genade aan die mens betoon. In hierdie
verhaal is daar as te ware twee bedrywe. Die eerste bedryf beskryf vir ons die
mens se optrede en sy opstandigheid teenoor God en die tweede bedryf beskryf
vir ons God se reaksie op die mens se optrede.
Die mens se opstandigheid
teen God.
Van die begin af was die
mens opstandig teenoor God ten spyte daarvan dat God net liefde teenoor die
mens betoon het. Adam en Eva het daarmee begin toe hulle God se bevel
verontagsaam het daar in die Paradys. Hulle kinders het maar net daarmee voort
gegaan met Kain wat sy broer Abel vermoor het. Hulle nageslag het so boos
geword dat God spyt gekry het dat Hy die mensdom gemaak het. Nadat God weer
nuut begin het met Noag, het sy nageslag maar net weer voortgegaan met hul
opstand teenoor God.
In Gen. 11:2 hoor ons hoe
die mense ooswaarts getrek het totdat hulle by ’n vlakte in Sinar uitgekom het
wat vandag as Irak bekend staan. Om ooswaarts te trek beteken om van God se
seën af weg te trek na ’n land waar jou hoop verydel sal word soos dit ook die
geval met Lot was wat ooswaarts na Sodom en Gemora getrek het.
In Gen. 11:3 hoor ons hoe
die mense met mekaar ooreenkom om die tegnologie wat hulle ontwikkel het, te
gebruik om ’n stad te bou. In Gen. 11:4 hoor ons waarom hulle die stad wou
bou.
Toe sê
hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die
hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde
versprei nie.”
Daar was twee redes waarom
hulle die stad wou bou. In die eerste plek wou hulle vir hulself ’n naam maak.
Hierin sien ons duidelik hoe die fokus van God af weg skuif na die mens toe.
Dit is die wortel van sonde wat reeds by Adam en Eva begin het. Hulle wou net
soos God wees. Die kern van sonde is dat die mens nie bereid is om God se gesag
in sy lewe te aanvaar nie. Die gevolg daarvan is duidelik. Ongehoorsaamheid aan
God se opdragte. God het reeds in die begin die opdrag gegee dat die mens oor
die aarde moet versprei om dit te bewerk soos ons hoor in Gen. 1:28:
Toe het
God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde
en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al
die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”
Hierdie opdrag word weer
aan Noag en sy seuns herhaal soos ons hoor in Gen. 9:1:
God het
vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en
bewoon die aarde.
Hieruit is die opstand
teen God baie duidelik. Die mens doen net mooi die teenoorgestelde van dit wat
God beveel. Die mens wil homself maar net nie aan God onderwerp nie. Hy vertrou
net op homself en sy vermoëns en weier om homself aan God te onderwerp. Dit is
vandag nog net soos dit in die tyd van Babel was. In Babel het die mense hulle
tegnologie gebruik om strukture te skep waarin hulle hul vertroue kon plaas.
Hulle het ’n toring gebou wat tot in die hemel moes ryk sodat hulle nie meer
vir God nodig gehad het om daar te kom nie. Hulle kon nou deur hulle eie vernuf
daar kom, nie om God te ontmoet nie, maar om self god te wees.
Dit is maar net soos die
mens vandag nog is. Ons leef in ’n tegnologiese eeu en mens hoor al hoe meer
die argument dat ons moderne tegnologie God oorbodig gemaak het. Daar is ’n al
hoe sterker neiging van mense om van die wetenskap ’n godsdiens te maak,
alhoewel hulle dit nooit as sulks sal beskryf nie. Ons mag nou wel dalk dink
dat dit dalk waar is van die ongelowiges daar buite, maar dit is tog sekerlik
nie ’n probleem by ons nie! Die feit is egter dat ons dalk nie soos die geharde
ateïste die bestaan van God ontken nie, maar dat ons wel dikwels so leef asof
Hy nie bestaan nie. Ons plaas ons vertroue in ons eie vermoëns en vernuf. Ons
leef al hoe meer vir onsself en die wêreld en beweeg sodoende al hoe verder van
God af.
Die mense van Babel het
die bevel van God verontagsaam om die hele aarde te vul. Hulle het op een plek
saamgekoek en sodoende God se doel om sy koninkryk oor die hele aarde te
versprei probeer dwarsboom. Die kerk doen vandag nog steeds dieselfde! Jesus se
opdrag aan sy kerk net voor sy hemelvaart was “Gaan dan na al die nasies toe
en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die
Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle
beveel het.” Hoe dikwels ignoreer die kerk nie hierdie opdrag nie? Maak ons
nie ook soos die mense van Babel nie? Broei ons mekaar nie ook maar net warm
nie, en voer nie die opdrag van die Here uit nie?
God antwoord met genade op
die mens se opstandigheid
Wat was God se reaksie op
die opstandigheid van Babel? Ons hoor in Gen. 11:5:
Die Here
het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou
het
Is dit ironies nie? Ten
spyte daarvan dat die mense ’n toring gebou het wat tot in die hemel strek,
moes God steeds afgaan! God is en sal altyd ver verhewe bo die mens wees.
God het afgekom om te kyk
en Hy het gevind dat die een taal wat die mense gepraat het hulle in hul
opstandigheid saamgebind het. Hy was bekommerd dat dit sal veroorsaak dat
hierdie samehorigheid hulle so ver sal wegdryf van Hom af dat hulle vir ewig
verlore sal gaan. Daarom tree God op. Hy verwar hul taal en verstrooi hulle
sodoende oor die hele aarde. Dit wat hulle nie wou doen nie het God kom doen.
Wanneer die mens in
opstand teen God kom en van die Hom af wegdraai, dan los God nie die mens nie.
Die mens en die aarde waarop ons woon is so ’n stoffie gemeet teen die
grootsheid van die heelal en die grootsheid van God dat dit aan God geen
verskil sal maak om die mens maar net te ignoreer nie. Dit sal egter vir die
mens katastrofies wees as God dit sou doen. Hy doen dit egter nie. Hy kom af na
die mens toe deur self mens te word soos ons hoor in Joh. 1:14:
Die
Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die
heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en
waarheid.
Die rede daarvoor hoor ons
in Joh. 1:12:
Maar aan
almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om
kinders van God te word.
Dit is die evangelie, die
goeie nuus wat ons as sy kerk in die wêreld moet uitdra. Die mense van Babel
was ongehoorsaam en daarom het hulle die pynlike gevolge daarvan ervaar. Hulle
taal is verwar en hulle is verstrooi oor die wêreld. As ons as kerk van die
Here ongehoorsaam is aan sy opdrag, dan moet ons nie verbaas wees as dit met
ons swaar gaan nie. God gebruik soms tydelike lyding om vir ons ’n ewige
heerlikheid te verseker. ’n Kerk wat nie aktief betrokke is by sending en die
uitbrei van God se koninkryk nie mag dalk net soos die mense van Babel
verstrooi word. Onthou, God bereik sy doel ten spyte van die mens se beste
pogings om dit te dwarsboom.
Hoe kry ons dit reg om aan
God se opdrag gehoorsaam te wees? Ons moet erns maak met Jesus. As Jesus ’n
werklikheid in ons lewens is, sal ons nie anders kan as om teenoor die hele
wêreld daarvan te getuig nie. Kom na Jesus toe sodat Hy die vuur en ywer om die
evangelie uit te dra in ons harte aan die brand kan steek.
Amen