maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God .....................1 Kor 1:23-24
Wys tans plasings met die etiket Paasfees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Paasfees. Wys alle plasings
04 April 2026
12 April 2020
Hoe vertrou jy die Here wanneer jou wêreld buite beheer raak?
Datum:12 Apr. 2020 GKE – Live Stream
Skriflesing: Ps. 11; Joh. 1 v 15; 2 v 18-22; Mat. 27 v 51;
Heb. 4 v 14 – 16
Teksvers: Ps. 11 v 4
Sing
Ps.
42-1 v 1 & 3
Ps.
86-1 v 1
Donderdagaand het ons die slegte nuus gehoor dat ons
inperking met nog twee weke verleng is tot die einde April. Dit hou verreikende
gevolge vir ons land in.
Reeds voor die verlenging het ekonome bereken dat ons
lands se ekonomie tussen 4 en 6% kan inkrimp hierdie jaar en dat volgende jaar ook
'n moeilike jaar gaan wees. Daar word verwag dat baie besighede bankrot gaan
speel en dat talle mense hul werk gaan verloor.
Dis inderdaad 'n moeilike tyd wat vir ons voorlê. By baie
mense kom die vraag na vore: “hoekom laat 'n liefdevolle God soveel swaarkry en
lyding toe?”
Daar is baie bemoedigende boodskappe wat ons met reg
aanspoor om op God te vertrou en dit is inderdaad wat ons moet doen. Die vraag
is nou net: “hoe doen jy dit?” Hoe vertrou jy God wanneer jou wêreld buite
beheer raak?
In Psalm 11 gee die Here vir ons 'n antwoord op die
hierdie vraag. In Psalm 11 hoor ons van 'n lewenskrisis wat Dawid beleef het. Dis
inderdaad 'n moeilike situasie waarin hy verkeer het.
Dawid se raadgewers moedig hom aan om te vlug, want daar is
'n groot gevaar wat dreig. Dawid weet egter dat hy as koning ter wille van sy
volk nie kan vlug nie, want dit sal baie negatiewe gevolge vir hulle inhou. Daarom
luister Dawid nie na sy raadgewers nie.
in Ps. 11:1a hoor ons wat sy antwoord is op
die raad wat hy ontvang:
By die Here
skuil ek
Hy vind sy ankers by die Here
in tye van nood.
In Psalm 11 v 4a hoor ons hoekom Dawid nie paniekerig
raak nie:
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Ons hoor in Psalm 11 v 4 twee redes waarom Dawid die Here
vertrou en nie paniekerig raak nie.
Die
eerste is: Die
Here is op sy troon in die hemel!
Met ander woorde die Here is in beheer.
Wanneer daar 'n krisis ontstaan, dan kyk ons so maklik
teen die hier en nou vas en ons sien nie raak dat God ook met hierdie krisis
besig is om sy ewige raadsplan uit te voer nie. Dit was die probleem met Dawid
se raadgewers. Hulle het net teen die huidige krisis vasgekyk en dit het hulle paniekerig
gemaak.
Die feit dat ons nie raaksien of verstaan hoekom iets
gebeur nie, beteken nie dat die Here nie 'n goeie rede het waarom Hy dit
toelaat nie.
Dawid sê hier: “Die
Here is op sy troon in die hemel.” Hy is die ewige God wat die hemel en die
aarde gemaak het. Daar is niks wat Hom onkant vang nie. Daarom moet ons Hom vertrou.
Ons verstaan nie hoekom hierdie pandemie die wêreld getref
het nie. Ons kan nie verduidelik hoekom die Here dit toelaat nie, maar ten
spyte daarvan moet ons die Here vertrou.
Die
tweede rede wat Dawid gee
verduidelik vir ons waarom ons die Here kan vertrou. “Die Here is in sy heilige tempel!“
Hier vind ons 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus.
Die tempel en die aanbiddingspraktyke in die tempel was alles profetiese
heenwysing na Jesus Christus. Die altaar en die offers het profeties heengewys
na Christus wat Homself op die kruis geoffer het.
Die allerheiligste deel wat agter die swaar tempel gordyn
afgesper was en waar die hoë priester net eenmaal 'n jaar kan ingaan om te
offer, is simboliek van God se heiligheid. Die offer wat die priester gedoen het
om versoening te doen vir die volk se sondes, was 'n profetiese heenwysing na Jesus
Christus wat met sy offer aan die kruis vir ons versoening vir ons sondes
gedoen het.
God is heilig en daarom kon die gewone volk nie by die
allerheiligste deel ingaan nie, want niemand kan die heiligheid van God aanskou
sonder om verteer te word nie.
Toe Moses gevra het om God te sien, het God hom in 'n klipskeur
met sy hand toegemaak en Moses kon net die teenwoordigheid van God aanvoel,
want as hy God se heerlikheid gesien het sou hy sterf.
Dit is hier waar die betekenis van Paasfees duidelik na
vore kom. In die Ou Testament mag niemand die heerlikheid van die Here aanskou
het nie.
In die Nuwe Testament in Joh. 1 v 14 hoor ons egter:
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het
sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader
het, vol genade en waarheid.
Hier het nou 'n verandering ingekom. In Jesus kan ons God
se heerlikheid sien sonder om te sterf.
Die verwysing na die tempel in Psalm 11 v 4 verwys na Christus.
Ons hoor in Joh. 2 v 18 tot 22:
Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met
watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en
in drie dae sal Ek hom oprig.”
Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan
hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”
Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. (21)
Die verandering tussen die Ou Testament en die Nuwe
Testament het aan die kruis gekom. Ons hoor in Mat. 27 v 50 & 51 wat gebeur
het toe Jesus gesterf het:
Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem
uitgeblaas.
Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van
bo tot onder middeldeur geskeur.
Die voorhangsel wat gekeer het dat die volk by die
heerlikheid van God uitkom, het geskeur en dus nou toegang verleen. Dit is van
bo na onder geskeur, dit wil sê van God af na die mens toe.
Dis die volk se sonde wat gekeer het dat hulle die
heerlikheid van God kon aanskou, want dit sou veroorsaak dat hulle sterf. Maar
nou het Jesus die hele mensdom se sondes op Hom geneem en Hy het gesterf en
daarom het ons nou direkte toegang tot God.
Die hoë priester het simbolies tussen God en die volk
gestaan en dit het heengewys na Jesus wat as ons enigste hoë priester tussen
ons en God staan. Deur Jesus kan ons nou direk tot God nader.
In Joh. 2 v 22 is daar egter 'n belangrike stukkie
inligting wat ons nie moet vergeet nie:
Later, nadat Hy
uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê
het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.
Dis Jesus se opstanding wat alles in werking gestel het,
want as Jesus nie die dood se mag gebreek het nie, sou alles tevergeefs gewees
het soos ons ook in 1 Kor. 15 v 19 hoor:
as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder
inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.
Jesus se opstanding is die hoogtepunt van Paasfees en dit
is wat ons vandag en elke Sondag herdenk. Ons aanbid nie 'n dooie God nie, want
Jesus het opgestaan.
Die opstanding van Jesus gee vir ons troos.
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Deur die heilige tempel, dit wil sê deur Jesus Christus kry
ons toegang tot die Here wat op sy troon sit.
Daarom mag ons tot Hom nader. Daarom mag ons, ons
bekommernisse na Hom toe bring. Hier is baie onsekerhede met hierdie pandemie
teenwoordig. Daar is baie bekommernisse oor wat gaan gebeur. Gaan ek ook
aangesteek word en siek word? Gaan ek ook my werk verloor? Wat gaan met ons ekonomie
gebeur? Gaan ons kan oorleef?
Ons mag en ons moet hierdie bekommernisse na die Here toe
bring. Ongeag wat ons vandag in die gesig staar, Jesus se opstanding beteken
dat die bose nie sal wen nie - selfs nie wanneer ons deur duisternis omring word
nie.
Ons weet nie hoekom God hierdie swaarkry in ons lewens
toelaat nie. Wat ons wel weet is dat Hy omgee. Hy het ons baie baie lief.
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun
gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige
lewe sal hê.
Wanneer die lewe vir jou te veel word. Wanneer hierdie
inperking jou wil oorweldig, kom skuil by ons Hemelse Vader.
Amen
Etikette:
bekommernis,
Jesus,
Jesus se opstanding,
Opstanding,
Paasfees,
Paassondag,
troos
20 Maart 2016
Ons kan waag om weer te droom, Geloof en gebed gee hoop vir die toekoms
Mar 11:12-25 tv’e
13 & 24
20
Mar 2016
Ps.
42-1:1 – 3
Sb
9-3 : 1 & 2
Sb
15-1:1 – 4
Ps.
91-1:1 & 6
Is daar nog hoop vir die
toekoms? Durf ons nog waag om te droom binne die harde werklikheid van Suid-Afrika
in 2016? Om hierdie vrae te kan beantwoord gaan put ons krag uit die bron van
Hoop in hierdie wêreld.
Hier in Mar 10 tot 15 hoor
ons die verhaal van een van die grootste gebeure in die geskiedenis van die
mensdom. Dit beskryf die gebeure daardie laaste week voor Jesus se kruisiging
en sy opstanding drie dae later. Binne in hierdie groter verhaal hoor ons van
’n skynbaar terloopse insident van ’n vyeboom wat nie vrugte gedra het nie. Ons
lees so maklik daaroor en mis dan die belangrike boodskap wat dit vir ons
inhou. As die Here vir ons iets in die Bybel sê, dan doen Hy dit nie sonder
goeie rede nie.
Dit beskryf vir ons die
gebeure op die Maandag voor Jesus gekruisig is en Hy weereens op pad na die
tempel toe. Mens sou wonder wat het die vyeboom en die gebeure wat daardie dag
by die tempel plaasgevind het met mekaar te doen? Hierdie gebeure het ’n baie
noue verband, want dit bring ’n boodskap van hoop vir ’n wêreld wat sonder hoop
sit. Ons kan waag om weer te droom want Geloof en gebed gee hoop vir die
toekoms.
Op pad na die tempel stap
Jesus en sy dissipels by ’n vyeboom verby. Omdat Jesus honger was het Hy nader
gestap om te kyk of Hy nie dalk ’n vy daaraan kon kry nie. Ten spyte van die
pragtige groen blare aan die boom was daar egter nie ’n enkele vrug aan die
boom nie.
Dan hoor ons hierdie
skokkende woorde: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet
nie.” Dit is Jesus se enigste oordeelswonder. By al die ander wonders word
iemand beter. Hongeriges kry kos, storms kom tot bedaring. Drie maal laat hy
mense wat gesterf het weer lewe, maar hierdie vyeboom laat Hy doodgaan!
Was Jesus gefrustreerd
omdat Hy nie kon kry wat Hy wou hê nie? Was dit dalk die spanning van wat die
komende Vrydag op Hom gewag het? Nee geliefdes, Jesus gebruik nooit sy
wondermag om Homself te bevoordeel nie. Al sy wonders dra ’n boodskap.
Die vervloeking van die
vyeboom en die skoonmaak van die tempel is albei simboliese aksies wat op die
geestelike bankrotskap van die mens wys. Uiterlik geen vrugte nie en innerlik
korrup.
Jesus het nie die vyeboom
vervloek omdat Hy kwaad was vir die vyeboom nie. Sy woede was eerder gerig op
alles waarvan daardie vrugtelose boom ’n simbool is: lou, selftevrede en
hoogmoedige gelowiges. Die Here het nie behae in geloof wat lou is nie. Hy hou
nie van skyn-godsdiens nie.
Dit is juis die soort
godsdiens wat Hy in sy tyd as mens in die wêreld gevind het. Die mense was
gedurig besig om alles wat Hy gedoen en sê het te kritiseer. Hulle het sy
dissipels gekritiseer omdat hulle op die verkeerde tyd geëet het. Hulle het Hom
gekritiseer omdat Hy die verkeerde mense vergewe het. Hulle het gekla omdat Hy
nie met die “regte” mense gemeng het nie en dat Hy ’n “slegte” invloed op die
kinders gehad het. Elke keer as Hy mense bevry het, het hulle probeer om hulle
in hulle ou vormgodsdiens terug te druk.
Waar staan ons in hierdie
opsig? Is ons nie ook soms te krities en veroordelend omdat mense nie presies
ons oorgelewerde gebruike en rituele nakom nie? In watter mate is ons in
vormgodsdiens vasgevang? Dra ons die vrug van die Gees? Getuig ons lewens van
liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing?
Dit is maklik om net
vinger te wys en te sê: “kyk wat doen julle!” Is daar dalk iemand wat jou te na
gekom het wat jy moet vergewe? Het ek dalk anderpad gekyk toe daardie moedelose
persoon oor my pad gekom het? Dra ons mekaar se laste? Het die situasie in my
lewe en in ons land my ook al op moedverloor se vlakte? Doen ek ook maar net mee
aan die moedelose praatjies of sien ek hoop vir die toekoms?
Wat verwag Jesus van ons?
Hy verwag meer van ons as net blare van skyngodsdiens. Hy verwag meer as daardie
front wat ons so maklik voorhou. Hy wil meer as dit hê, want Hy weet dat ’n
skyn vormgodsdiens ’n inherente doodsheid in het. Ervaar jy die vreugde wat ’n
verhouding met God inhou? Jesus verwag vrug by ons. Hy wil hê dat die vrug van
die Gees duidelik sigbaar is in ons lewens.
Verwag Jesus nie te veel
nie? Ons hoor tog duidelik in Mar. 11:13 dat dit nie vyetyd was nie. Was dit
nie onbillik van Jesus om ’n vrug aan daardie vyeboom te wou vind terwyl dit
nie vyetyd was nie? Verwag Jesus nie van ons ook vrugte wanneer ons soms nie
het om te gee nie? Die feit dat dit nie vyetyd was nie, wys vir ons dat daar
nie seisoene is waarin ons moet vrug dra nie. Ons moet heel jaar vrugte dra.
Hoe moet ons maak om nie
net blare van vertoon dra nie, maar dat ons ook vrug dra? Wanneer Petrus die
volgende dag vir Jesus noem dat die vyeboom wat Hy vervloek het heeltemal verdroog
het, sou mens verwag dat Jesus vir hom sou sê dat hulle moet sorg dat hulle
vrug dra, anders gaan hulle net so verdroog soos daardie vyeboom. Dit is tog
immers die boodskap wat die wêreld elke dag aan ons uitbasuin. Jy moet sterk
wees teen die aanslae van die wêreld. Ruk jouself reg. As jy geen ander opsie
het as om sterk te wees nie sal jy anderkant uitkom. Kom, kom, sit net skouer
aan die wiel. Die boodskap van die wêreld is ’n troostelose boodskap wat geen
hoop bied nie, want wat moet ek doen as ek nie meer sterk kan wees nie? As dit
die antwoord is wat Jesus gegee het, sal dit net soveel gehelp het as wat mens
by ’n vrugtelose vyeboom staan en vir dit sê: “jy beter sorg dat jy vrugte
dra!”
Genadiglik is dit nie die
antwoord wat Jesus gegee het nie. Nee Jesus se antwoord was: (Mar. 11:22) “Julle
moet geloof in God hê!” Dit wil sê, “vertrou op God.” Glo dat Jesus gekom
het om jou vry te maak van ’n doodse vormgodsdiens. Dat Hy die prys betaal het
sodat jy ook die lewe kan smaak. Geloof is die krag wat die vrug van die Gees in
jou lewe sal laat groei. Geloof is die krag wat jou met nuwe oë na die wêreld
laat kyk. Daarom, geliefdes. Glo dat die evangelie vir jou ook waar is.
Jesus gaan nog verder en
deur te verduidelik hoe kragtig geloof werklik is soos ons hoor in Mar 11:23 “Dit
verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die
see, en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir
hom sal dit gebeur.” Is daar in jou lewe ’n berg wat tussen jou en God
staan? ’n Berg wat jou hoop so oorskadu dat dit naderhand heeltemal uitgedoof
raak? Deur die krag van geloof kan jy daardie berg skuif.
In Mar 11:24 sê Jesus vir
ons hoe ons daardie berg met behulp van geloof kan skuif: “Daarom sê Ek vir
julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en
dit sal vir julle so wees.” Ons moet egter nie die konteks waarbinne
hierdie belofte gemaak word miskyk nie. Die konteks is dat die Here wil hê dat
jy Hom persoonlik moet ken. Dat jy moet verstaan hoe groot sy liefde vir jou
is. Moet daarom nie hierdie belofte verskraal tot ’n manier om ’n deftiger
motor of indrukwekkende salaris te verseker nie. Die belofte waarvan die Here
praat is baie groter as aardse rykdom. Sy droom vir jou is meer as bevorderings
en winsgrense.
Hy wil jou bevry van die
sonde, vrees en dood. Dit is die berge wat Hy uit jou pad gehaal het. Hy wil hê
dat jy Hom werklik moet leer ken en vertrou dat Hy jou sal dra. Hy wil vir jou
hoop gee. Dit is die beloftes wat Hy sal verhoor. Waag dit weer om te droom.
Gebruik geloof en gebed om hoop te vind vir die toekoms.
Amen
Etikette:
droom,
geestelike bankrotskap,
hoogmoed,
Hoop,
Paasfees,
ruis,
vormgodsdiens,
vyeboom
29 Junie 2014
Moenie toelaat dat blokkasies jou van die krag van Jesus Christus se opstanding beroof nie want ons Here het regtig opgestaan
20 Apr. 2014 GKE
Joh. 20 v 1-18; teksvers Luk 24 v 33 (Lees ook
Mat. 28; Mar 16; Luk 24 & Joh. 20-21)
Lof-Psalm Ps. 92 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 42 v 1 (OAB)
Slotsang Sb. 1-1 v 1 & 2 (Sb 24 in ou
Swart Ps. boek)
Inleiding
Met Paasfees herdenk
Christene wêreldwyd Jesus kruisdood en daarmee saam ook sy opstanding. Paasfees
word as een van die belangrikste feeste op die Christelike kalender beskou. Die
opstanding van Jesus Christus is die Christen se waarborg tot ’n nuwe lewe in
God of anders gestel dit is ons waarborg van die ewige lewe wat nou reeds saam
met God begin. Sonder die opstanding is ons geloof waardeloos soos die Here vir
ons in 1 Kor. 15 v 17 – 19 sê:
17 En as Christus nie opgewek
is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18
Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19 As ons
net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die
bejammerenswaardigste van alle mense.
Christus se opstanding
beteken vir ons die volgende:
1)
Ons Here leef! Ons aanbid nie ’n dooie God nie. Ons
kyk nie terug in die verlede na God nie, maar ons kyk vorentoe na ’n lewe saam
God.
2)
Ons kan dit doen want Jesus het die skeiding wat
sonde tussen ons en God veroorsaak het, met sy kruisdood weggeneem. Sy
opstanding is ons waarborg dat Hy die dood oorwin het. Dit gee vir ons die
waarborg dat ons voor God staan asof ons nooit enige sonde gedoen het nie.
3)
Deur die opstanding word ons tot ’n nuwe lewe opgewek
waar ons die heerlike teenwoordigheid van God ervaar.
4)
Verder is die opstanding ook vir ons ’n waarborg van
ons eie salige opstanding in Christus. Die dood hou nie meer vir ons verskrikking
in nie. Dit is ’n deurgang tot God waar ons vir ewig saam met God kan lewe
sonder trane hartseer pyn of dood.
Hoekom ervaar ons dan nie
altyd hierdie wonderlike voordele van die opstanding nie? Hoekom voel dit soms
vir ons of God so ver is? Hoekom sukkel ons om hierdie nuwe lewe saam met God
te leef? Hoekom kry my ou sondige natuur so dikwels die oorhand in die lewe?
Hier in ons teksgedeelte
sien ons dat daar ’n paar blokkasies is wat kan keer dat ons die nut van
opstanding in ons lewens kan ervaar. In die eerste plek is daar die
blokkasie van vyandskap teen God. Tweedens is daar die blokkasie van
woede teenoor God. Derdens die blokkasie van skuldgevoelens. Vierdens
is daar die blokkasie hartseer en ’n gevoel van Godverlatenheid.
Blokkasie van Vyandskap:
Ons staan in die eerste plek
stil by die blokkasie van vyandskap. In Mat 28v11-15 hoor ons:
11 Terwyl die vroue op pad was,
kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles
wat gebeur het. 12 Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde
vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate ’n groot som
geld gegee 13 en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag
gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’14 En as die
goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie
bekommerd hoef te wees nie.”
15 Die wagte het toe die geld
gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.
Hierdie
storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.
Die wagte wat hierdie
gebeure aan die Priesterhoofde vertel was daar. Hulle het presies gesien wat
gebeur het soos ons hoor in Mat. 28 v 2 – 4:
2 Skielik was daar ’n
geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die
graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit.
3 Sy voorkoms was so blink
soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4 Van skrik vir hom het
die wagte gebewe en soos dooies geword.
Ten spyte daarvan weier die
Priesterhoofde om die ware gebeure te glo en hulle dis ’n ander verduideliking
daarvoor op. Net so is daar vandag ook mense wat weier om die vertelling van
ooggetuies te aanvaar. Hulle glo nie die Bybel nie soos een persoon Donderdag
op ’n internet besprekingsforum geskryf het in ’n bespreking oor hoe ons Goeie
Vrydag moet vier:
Miskien
moet julle eerste van alles uitvind of die karakter van Jesus ooit bestaan het
want anders is al die menings pure verniet?
So is daar persone wat die
absolute wonder en krag van Christus se kruisiging en opstanding mis omdat
hulle weier om in Jesus Christus te glo. Die hartseer is dat as mens hiermee
volhard, jy die moontlikheid in die gesig staar om vir ewig sonder God te wees.
Die blokkasie van woede
In die verhaal in Luk.
24v20-23 hoor ons van Kleopas wat bitter ontsteld was:
21 Ons het so gehoop dat dit
Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat
die dinge gebeur het. 22 En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons
ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23 en kon sy
liggaam nie kry nie.
Kleopas is kwaad omdat hy
meen dat Jesus hulle in die steek gelaat het. Hulle het so hard gehoop dat
Jesus vir Israel sou verlos van die Romeinse onderdrukking.
Hoe dikwels gebeur dit dat
ons ook teleurgesteld voel? Ons het een of ander verwagting gehad wat nie
uitgewerk het nie en nou is ons kwaad vir die Here. Die probleem wat Kleopas
gehad het was dat hy ’n verkeerde verwagting van Christus gehad het en dat hy
ook nie die groter prentjie verstaan het nie. Hy het ’n aardse verwagting van
Jesus gehad en hy het nie die groter prentjie van God se koninkryk raakgesien
nie. Hoe dikwels is verwagting van Jesus net maar eintlik oor materiële gewin.
Ons wil hê dat dit hier en nou moet goed gaan en dit verblind ons vir die
teenwoordigheid van God net soos Kleopas en sy metgesel verblind was ten opsigte
van Jesus se teenwoordigheid nie. Deur die Woord het Jesus egter Kleopas se
verkeerde verwagting reggestel soos ons hoor in Luk 24v27:
Daarna het
Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom
betrekking het, vir hulle uitgelê.
As ons dus kwaad is vir God
omdat ons voel dat Hy ons teleurgestel het dan is dit nodig dat ons met sy
Woord moet besig wees en wanneer ons dit doen dan sal God Homself aan ons
bekendmaak.
Die blokkasie van
skuldgevoelens
Petrus het die Here drie
maal verloën. Dink net watter skuldgevoel Petrus moes gehad het. Dit is Petrus
wat ewe manhaftig verklaar het soos ons in Luk. 22v33 hoor:
“Here, ek
is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
Daarom dat hy ook so half
terughoudend is wanneer hy en Johannes gaan kyk na Jesus se leë graf soos ons
hoor in Joh. 20v3-4:
3 Petrus en die ander
dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4 Die twee het
saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop
en eerste by die graf gekom.
Dink net wat moes binne in
Petrus se gemoed aangegaan het. Het Jesus regtig opgestaan? Hy moes weet en
daarom het hy by die graf ingegaan waar Johannes net by die ingang bly staan
het soos ons hoor in Joh. 20v6:
Ná hom het
Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan.
In Luk. 24v12b
hoor ons:
Vol
verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.
Hoe dikwels word ons nie ook
as gevolg van skuldgevoelens afgesny van Jesus af nie. Ek het al weer in sonde
geval ten spyte van my beste intensies. Ewe grootpraterig het ek net soos
Petrus verklaar:
“Here, ek
is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
En nou staan my sonde al
weer soos ’n muur tussen my en die Here. Skaam skuldig sien ek nie kans om vir Jesus
in die oë te kyk nie. Genadiglik is dit die beste posisie om in te wees om die
Here se genade te ontvang. Dit is eers wanneer ek besef dat ek tot die dood toe
skuldig is dat ek werklik kan begryp hoe groot God se genade is. Jesus is
getrou en Hy hou nie sy genade terug nie soos ons hoor in Luk. 24v34:
“Die Here
het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”
Geliefdes, as ons deur
skuldgevoelens oorweldig word is dit net nodig dat ons weer by Jesus uitkom
sodat ons weereens die heerlikheid van sy teenwoordigheid kan ervaar.
Die blokkasie van hartseer
en ’n gevoel van Godverlatenheid.
Maria Magdalena se hartseer
het gekeer dat sy Jesus herken soos ons hoor in Joh. 20v11:
Maar Maria
het buite by die graf bly staan en huil.
In Joh. 20v15 hoor ons:
Jesus vra
haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het
gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom
weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”
Dit gebeur soms dat hartseer
ons heeltemal verblind vir die liefdevolle teenwoordigheid van die Here. Dit is
die tye wanneer dit vir ons voel of die lewe net te veel is. Die genade is dat
die Here verstaan en daarom laat Hy ons nooit alleen nie. Jesus het bange
Godverlatenheid ervaar sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Ons
moet maar net luister vir sy stem. Jesus het nie vir Maria alleen gelaat nie.
Hy het geduldig by haar gebly totdat sy Hom herken het soos ons hoor
Joh. 20v16:
Jesus het
vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai
na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
Wanneer ons deur hartseer
verblind word moet ons maar net besig bly met die Here se Woord en ons sal sy
liefdevolle stem daar hoor.
Slot
Die blokkasies wat keer dat
ons deur die krag van Jesus se opstanding die liefdevolle teenwoordigheid van
die Here ervaar is vyandskap teen God, woede, skuldgevoelens en hartseer. As
hierdie blokkasies in die pad staan van u verhouding met die Here, kom na Jesus
toe. Moenie toelaat dat blokkasies jou van die krag van Jesus Christus se
opstanding beroof nie want ons Here het regtig opgestaan !!!!!
Amen
Teken in op:
Opmerkings (Atom)

