Wys tans plasings met die etiket Jesus gekruisig. Godverlatenheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus gekruisig. Godverlatenheid. Wys alle plasings

04 April 2026

 


Skriflesing: Luk. 23:13 – 43 ; Joh. 19:17-35 ; Mat. 27:45 – 46

Teksverse: Luk. 23;34, 43, 46; Joh. 19: 26-28, 30; Mat 27:46

 Inleiding

Wat beteken Paasfees werklik vir ons? Volgens die winkel advertensies lyk dit of Paasfees gaan oor sjokolade paashase en sjokolade eiers. Die haas en die eier is oeroue simbole van vrugbaarheid, want die tydperk waarin ons Paasfees vier, is in die noordelike halfrond vroeë lente, ’n tydperk van nuwe lewe.

Vir Christene is dit egter nie waaroor Paasfees gaan nie. Christene herdenk met Paasfees die kruisiging en opstanding van Jesus Christus so bietjie meer as 2000 jaar gelede wat plaasgevind het in die tyd wat Joodse Paasfees gevier is.

Wat is die werklike betekenis van Jesus se kruisiging en opstanding vir ons?

Hierdie betekenis kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het.

Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons
“Ek het jou onvoorwaardelik lief!” en daarom gaan ons vanoggend stilstaan by die sewe kruiswoorde.

Sewe is die volheidsgetal van God en met sewe kruiswoorde hoor ons die volle omvang van Jesus se liefde vir ons.

In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande.

Luk. 23 v 34 : “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Wie is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is hulle wat Hom gekruisig het. Hulle wat saam geskree het “kruisig Hom!” Daarmee wys ons gerieflik die vinger weg van onsself af.

Die korrekte antwoord is dat alle mense as gevolg van sonde vyande van God is.

Die ongemaklike antwoord is dat ek Jesus se vyand is en daarmee wys die vinger direk terug na my toe!

Die troos wat ons in hierdie bede van Jesus vind is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het soos ons ook hoor in Rom. 5 v 8:

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Hierin sien ons hoe ware liefde van God haat oorwin. Die verantwoordelikheid wat hieruit voortspruit is dat ek ook my vyande moet vergewe soos wat God my vergewe.

Is ek bereid om God se liefde in my lewe te laat werk of leef ek nog in vyandskap met God en my naaste?

In die tweede kruiswoord sien ons Jesus se liefde in die verlossing wat Hy aan boetvaardige mense skenk.

Saam met Jesus het is daar twee misdadigers gekruisig. Een van hulle het die vertroostende woorde van Luk. 23 v 43 gehoor:

“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Waarom het net een hierdie troos gehoor?

Slegs een het besef hoe verlore hy in sy sonde is terwyl die ander een Christus gespot het en ander vir sy sonde blameer het. Die een wat gered is het in diepe ootmoed by Jesus gesmeek soos ons hoor in Luk. 23 v 42:

dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

Volhard ek nog in my sonde waar ek alles en almal blameer of het ek al tot die diepe besef van my verlorenheid gekom sodat ek by Jesus verlossing kan soek?

Die troos wat ons in die tweede kruiswoord ontvang is Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind.

In die derde kruiswoord hoor ons die ware vertroosting van Jesus se liefde vir diegene wat naby Hom is.

Joh. 19v26-27: “Daar is u seun ........ daar is jou moeder”

In Jesus se diepe nood dink Hy nie aan homself nie, maar sien Hy steeds die pyn en lyding van hulle wat vir Hom dierbaar is raak. Met hierdie kruisgebeure het die profesie van Simeon aan Jesus se moeder waar geword:

En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan

In hierdie derde kruiswoord sien ons Jesus se liefde raak in sy omgee vir die pyn en lyding van elkeen wat naby Hom is. Sy liefde bied ware vertroosting omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

Die troos wat ons hierin vind is dat Jesus ook vir ons omgee en dat ons met vertroue na Hom toe kan gaan vir troos wanneer ons pyn en lyding ervaar. Net soos wat Johannes vir Maria in sy huis geneem het, sal ons hemelse Vader al sy kinders in sy huis opneem waar Jesus vir hulle plek voorberei het.

Na hierdie derde kruiswoord was daar drie uur duisternis. Voor die duisternis rig Jesus Hom tot die mense.

Na die duisternis rig Hy Homself tot sy lyde in die vierde en vyfde kruiswoorde. Die duisternis dui ook vir ons die dieptepunt van Jesus se lyding aan.

In die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se uitroep van Godverlatenheid.

Mat. 27v46:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Deur die eeue heen hoor ons hoe mense kerm van Godverlatenheid. Daar was egter net een geval in die geskiedenis waar God werklik sy rug op iemand gedraai het, toe Hy Homself van Jesus onttrek het. Dit is wat die ware hel is, naamlik om totaal deur God verlaat te word. Daardeur het Jesus die volle straf gedra van die uitverkorenes.

Die troos wat ons in die vierde kruiswoord ontvang is dat Jesus uit liefde Godverlatenheid ervaar het sodat ons nooit hoef uit te roep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

In ons swaarste aanvegtinge kan ons verseker weet dat God ons nooit alleen laat nie. Hy is daar en daarom kan ons met vertroue by hom hulp en skuiling soek wanneer die lewe moeilik raak en kan ons vashou aan sy belofte wat Hy in Rom. 8 v 38 – 39 vir ons gee:

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Met die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se liefde in sy geestelike lyde wat Hy in ons plek gedra het.

In die vyfde kruiswoord hoor ons van Jesus se liggaamlike lyde.

Joh. 19v28 “Ek is dors.”  Jesus het na liggaam en siel gely en daarmee bewys Hy sy liefde vir ons deurdat Hy ons liggaamlik en geestelik verlos. Hiermee kry ons die troos dat ons by Jesus die lewende water kan kry wat vir ons ’n lafenis vir ons lyding en droefheid hier op aarde.

Die troos is ook verder dat Jesus ons daarmee verseker dat die lyding hier op aarde van verbygaande aard is. Ons sien daarna uit om na hierdie lewe vir ewig by God te wees waar daar geen hartseer pyn of lyding sal wees nie en dat God self al ons trane sal afdroog.

Ons kan nou reeds troos by God vind met die sekere wete dat “die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” soos hy ons belowe in Rom. 8 v18.

Gaan soek ons, ons troos by die Here of verval ons nog steeds in ’n troostelose moedeloosheid wanneer die lewe ons omdop?

Die vierde en vyfde kruiswoorde was uitroepe van smart en daarmee troos Jesus se liefde ons omdat Hy bereid was om in ons plek die smart te dra.

Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde vir ons ’n nuwe begin in die lewe gee.

Joh. 19 v 30: “Dit is volbring!” Hiermee sê Jesus vir ons dat sy werk as slaaf voltooi is en dat sy werk as Koning begin. Hy het die oorwinning behaal deur volledig vir ons sondes te betaal.

Dit is dan ook ’n draaipunt in die wêreldgeskiedenis. Die mag van die sonde is gebreek. Sonde het nie meer ’n houvas op ons nie. Ons het nou ’n nuwe lewe saam met God.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde die troos op ons lewensweg is. Al dreig my lewe om sy doel te mis en doelloos te wees is daar vir my die hoop van ’n nuwe begin saam met God.

Vir elkeen wat die sesde kruiswoord ter harte neem is daar die hoop dat my lewe sinvols sal wees en dat ek my lewensdoel saam met God sal bereik.

Met die sewende kruiswoord sê Jesus vir ons dat Hy nou ’n nuwe betekenis aan die dood gee.

Luk. 23v46. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Met sy lewe het Jesus vir ons gewys hoe om te leef. Nou wys Hy vir ons hoe om te sterf. Een ding in die lewe is seker, naamlik dat ons gaan sterf. Dit wat agter die dood lê bly vir ons ’n onsekerheid. Hier wys Jesus vir ons, ons kan ons nou ook in die dood veilig in die Vader se hande toevertrou, WANT die dood is nie meer ’n straf nie!

Vir die ongelowige is die dood ’n absolute hopeloosheid en ’n einde aan alles. Vir die gelowige is die dood egter slegs ’n deurgang na ’n volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal wees.

Omdat Jesus in ons plek die straf vir die sonde gedra het hoef ons nie God se woede in die dood te vrees nie en daarom kan ons vertrou dat God ons veilig sal bewaar.

Die troos wat ons hierdeur ontvang is die wete dat ek nou in ’n toestand van onsekere donkerte ingaan waar ek myself nie kan beskerm nie. MAAR, ek weet ek kan myself aan God se troue Vaderlike sorg toevertrou. Ek vertrou dat God my in die nuwe dag sal wakker maak.

En Jesus se opstanding wat ons vandag en elke Sondag herdenk is ons waarborg dat dit die waarheid is.

Daarom is die dood vir die gelowige nie die einde nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van heerlikheid saam met God.

Samevatting

Die ware betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het.

Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons
“Ek het jou onvoorwaardelik lief!”

In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande en daarin sien ons hoe God se liefde ons haat oorwin.

In die tweede kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind.

In die derde kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde wat ware vertroosting bied omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

In die vierde en vyfde kruiswoorde hoor ons hoe Jesus vir ons gely het. Hy het geestelik en liggaamlik gely.

Met die vierde kruiswoord hoor ons van sy Godverlatenheid sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

In die vyfde kruiswoord hoor ons dat niks ons van sy liefde kan skei nie en dat ons uitsien na ’n bedeling waar daar geen lyding meer sal wees nie.

Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.

Met die sesde kruiswoord hoor ons dat daar ’n nuwe begin is vir elkeen wat deur sonde ontspoor is.

In die sewende kruiswoord hoor ons dat die dood vir die gelowige nie die einde is nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van ewige heerlikheid saam met God.

Vind jou verlossing en vertroosting in die liefde van Jesus wat Hy aan die kruis vir ons gewys het en nie in die oppervlakkigheid van hierdie wêreld nie.

Amen


26 Oktober 2025

Waar was God toe dit gebeur het?

 


Psalm 22 

Teksvers Ps. 22:2

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Waar was God toe dit gebeur het? Waar was God toe die inbrekers ons in ons huis oorval het? Waar was God toe die ongeluk gebeur het? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie? So is daar so baie situasies in ons lewe wat aanleiding gee tot hierdie vrae. Elkeen van ons beleef op een of ander stadium die ellende van die lewe en dit is een van die tergendste vrae wat daar oor die lewe is. Hiermee saam probeer die satan ons oortuig dat God nie omgee nie.

Waar was God toe dit gebeur het? Dit is ’n vraag wat deur al die eeue heen maar net dieselfde bly. Die omstandighede wat aanleiding tot die vraag gee het dalk verander, maar die noodroep bly dieselfde. Ons weet nie wat Dawid se omstandighede was toe hy Psalm 22 gedig het nie. Moontlik was dit toe hy vir sy lewe moes vlug toe Saul hom wou doodmaak. Moontlik daardie keer toe sy eie seun Absolom sy troon wou afneem. Ons weet nie, maar wat wel duidelik in die Psalm is, is dat dit die dieptes van ellende beskryf wat Dawid op ’n stadium ervaar het.

Die diepste nood wat ’n gelowige kan beleef is die ervaring dat God ons verlaat het. Dit is die ervaring wat Dawid verwoord in Ps. 22:2

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Ons hoor hierin sy intense pyn wat hy beleef het. Die God wat my God is. Die God met wie ek ’n persoonlike verhouding het, het Hom van my onttrek. Hy was nie daar toe ek Hom nodig gehad het nie!

Sy teleurstelling is nog meer intens as ons luister na wat sy voorvaders beleef het in soortgelyke omstandighede soos ons hoor in Ps. 22:5

Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered

Sy ervaring is egter presies die teenoorgestelde. Hy voel soos ’n wurm, ’n voorwerp van bespotting. Sy situasie is so hopeloos dat mense vir hom lag en met hom spot omdat hy in sulke omstandighede nog steeds aan die Here bly vashou. As hy dan so baie van die Here hou, laat Hy hom dan red. So klink die spotstem van hulle wat op hul eie vermoëns staatmaak.

Tog het hy in die verlede ervaar dat God daar is. Dis dan God wat hom sy eerste lewenslig laat sien het en van sy geboorte by hom betrokke was. Dit is wat sy lyding soveel erger maak. Dit voel vir hom of God hom in die steek gelaat het.

Dit is wat lyding aan ’n mens doen. Dit laat jou voel of jy so weerloos is soos water wat uitgestort is. Dis asof jou bene uitmekaar val en jou hart so sag soos was word. Dit voel vir jou of jou lewe net so min as ’n potskerf werd is soos ons hoor in Ps. 22 v 16.

Ek is so min werd soos 'n potskerf,

my tong kleef aan my verhemelte,

U laat lê my asof ek dood is.

Hierdie beeld wat die digter gebruik, verwys na die erdepotte wat destyds in Israel gebruik is. Solank die erdepot heel is, is dit nuttig omdat mens allerlei goed daarin kan bere. Maar as dit gebreek is, is dit niks werd nie. Al wat mens met die stukkende potskerwe kan doen wat oorbly is om dit weg te gooi. Dit is wat lyding doen. Daardie gevoel dat God my in die steek gelaat het en dat ek nikswerd is nie. Groter nood kan geen mens hom voorstel nie.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Wat het Dawid gedoen? Ten spyte van sy negatiewe ervaring, vlug hy nog steeds na God toe, want hy weet daar is niemand anders wat kan help nie. Ps. 22:12 – 22 beskryf sy gebed om hulp. Hy beskryf sy lyding in beeldryke taal. Sy vyande is soos wilde beeste uit Basan wat hom omsingel. Hulle is soos verskeurende brullende leeus wat op hom afstorm.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Jy wend jou na God toe in gebed en jy stort jou hart teenoor Hom uit. Jy beskryf vir Hom presies hoe jy voel. Al jou emosies van woede en vrees stort jy voor die Here uit. Dit help nie om die emosies wat jy ervaar te onderdruk nie, want hulle is daar. Die Here verstaan dat jy so voel en daarom kan en moet jy dit vir Hom vertel.

Psalm 22 beskryf die intense lyding van ’n mens wat swaar gely het, maar dit beskryf ook sy dank teenoor die Here wat hom van sy smart verlos het. Alhoewel dit vir Dawid gevoel het dat die Here hom in die steek gelaat het en dit soms vir ons ook so voel, is die werklikheid dat daar net een mens in die hele geskiedenis van die mensdom is wat werklik deur God verlaat was.

In Mat 27:45-46 hoor ons hoe Jesus uitroep

45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

God is al deur die eeue ontelbaar baie keer aangeroep met die klag: “My God, waarom het u my verlaat?” Waar was God toe dit gebeur het? Maar tog was hierdie klag nog net een keer waar, naamlik toe Jesus dit aan die kruis uitgeroep het.

Hierdie middelste van sewe kruiswoorde is die dieptepunt van Jesus se lyding. Dit volg na drie ure van duisternis en stilte waar God en mense geswyg het. Wat het in daardie drie ure gebeur? Die Seun van God het die ewige dood van Godverlatenheid gely. Daarom kan elkeen wat glo in die verlossing van Jesus Christus verseker weet dat hulle nooit weer Godverlatenheid sal ervaar nie. Daarom kon Dawid ook in hierdie gebed waar hy sy ellende in gebed teenoor God verwoord, in die laaste gedeelte God ook dank vir die verlossing wat Hy gee.

Waar was God toe dit gebeur het? Hy was daar! Dit is Hy wat jou deur die krisis gedra het! Dit is Hy wat by jou is waar jy midde in die krisis staan. Dit is Hy wat die uitkoms gegee het. Dit is Hy wat jou vashou wanneer die aanslae van die lewe op hulle felste op jou afstorm. God is daar.

Ons moet verstaan dat God ons nie altyd uit die situasie neem nie. In hierdie wêreld is ons nog steeds onderwerp aan die gevolge van sonde. Die diepste nood wat ’n persoon kan ervaar, is om van God vervreem te wees. Dit is wat Jesus kom herstel het. Dit is wat Jesus kom herstel het. Met sy kruisdood en opstanding, het Hy die gebroke verhouding tussen God en mens herstel. Ons is egter nog in die wêreld en ons voel nog die nagevolge van die mens se opstand teen God. Ware vrede is nie om vry te wees van moeilike omstandighede nie, ware vrede vind ons in die teenwoordigheid van God.

Wanneer ons in moeilike omstandighede beland voel dit soms of God nie daar is nie, maar Hy is daar en dit is wat Dawid op die uiteinde ook besef het, naamlik dat God ook midde in sy moeilike omstandighede daar was. Daarom verklaar Dawid dat hy voor almal sal getuig wat God vir hom gedoen het en dit is waaroor ons ook moet getuig. Jesus het die skeidsmuur wat sonde tussen ons en God geplaas het, weggeneem en daarom kan ons verseker wees dat God ons nooit alleen sal laat nie. Deur sy Gees is Hy elke oomblik van elke dag by jou. Ons verstaan nie altyd hoekom sekere omstandighede oor ons pad kom nie, maar ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

In Ps. 22:28-29 hoor ons

Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke.

Hier sien ons dat God besig is om die gebrokenheid van die sondige wêreld te herstel. Dit is die lewende hoop waaraan ons vashou. Daar kom ’n tyd waar ons nie meer aan die ellende van hierdie wêreld onderwerp gaan wees nie. Dit gee ook vir ons ’n perspektief op die huidige werklikheid waarin ons leef. Selfs die gebrokenheid van hierdie wêreld is nie groter as God nie. Wat is die ergste wat die ergste wat met ons kan gebeur in hierdie lewe? Ons kan ons lewe verloor en selfs wanneer dit gebeur, is God steeds daar. Die liggaamlike dood is nie die einde nie, maar slegs die begin van ’n ewigheid saam met God. Daarom hoef ons ook nie die dood te vrees nie.

Waar was God toe dit gebeur het? Hy is daar. Hy laat ons nooit alleen nie, selfs al voel dit soms of Hy nie daar is nie. Wanneer dit voel of God jou verlaat het, neem steeds jou toevlug tot Hom. Jesus het eenmaal ware Godverlatenheid ervaar sodat elkeen wat in Hom glo nooit weer sonder God sal wees nie. Wanneer die lewe vir jou te veel word, stort jou hart teenoor Hom uit en weet dat Hy daar is en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. Selfs al gebeur dit dat jou lewe geneem word is Hy steeds daar.

Wanneer jy in jou nood na God toe vlug en nie weg van Hom af nie sal jy ’n nuwe perspektief daarop ontdek sodat jy Hom selfs midde in jou nood kan loof en prys. Hou in vertroue vas aan God se genade en weet dat Hy daar is, selfs al voel dit nie altyd so nie.

Amen